Mike Warnke, sal ons eerder stilbly?

 

Vals Profeet en Evangelis Mike Warnke

In die laat 1970’s breek die Sataniese Paniek (Satanic Panic) los in die Verenigde State.  Die rede waarom dit ‘n paar jaar geneem het om in Suid Afrika los te breek was omdat die regerende Nasionale Party en die Afrikaner Broederbond nog die Pinksters as ‘n sekte beskou het.  Dit het verander nadat Dr FP Moller, die President van die AGS Kerk lid geword het van die Broederbond.  Vandaar af het die skeidslyn tussen Gereformeerd en Pinkster begin vervaag.

In die tyd het die eerste beweerde voormalige Satanis in Suid Afrika na vore gekom; ene Phil Botha, wat toe ook onder die Pinkster kerke beweeg het en sy verhaal vertel het.  Uit sy pen uit het ook twee boeke verskyn wat onlangs deur Francis B op die Kindle platform beskikbaar gestel is.  Botha het nie ‘n groot aanhang gehad nie, en hy het vinnig van die toneel af verdwyn.  Meer kan op ‘n ander dag gesê word oor hierdie karakter.

Wat egter ‘n groot impak gehad het was die boek “Rock Musiek: Die Reg om te Weet”, deur Rodney Seale.  Die boek het in die laat 1980’s verskyn saam met sy oudio-kasette oor die gevare van Rock Musiek.  Rodney Seale sou natuurlik nie die aansien verwerf het wat hy gehad het as dit nie was vir Pinkster leiers wat aangesluit het by die Afrikaner Broederbond nie.  Dit is ook ‘n storie vir ‘n ander dag.

In Seale se boek, verwys hy na al die Satanistiese skandes van Rock sangers en ook onder andere dat die sangers die anti-apartheid beweging ondersteun het.  Laasgenoemde sou vandag gesien word as eerbaar, maar was deel van die arsenaal van pastore en predikante om die bevolking op te sweep vir politieke gewin.  Dit was die taak van die Afrikaanse Kerke om te verseker dat die Nasionale Party aan bewind bly.  Baie van die aantuigings wat gemaak word teen die sangers is natuurlik vals.

In een van die laaste hoofstukke van sy boek noem Seale verskeie vermaaklikheids kunstenaars wat volgens hom Christene geword het.  Onder hulle is Mike Warnke.

Oor Warnke skryf hy:

“Na moeilike kinderjare en ‘n ontstuimige jeug as dwelmhandelaar en later satanspriester het Mike Warnke tydens sy vlootopleiding tot bekering gekom.  Hy is ‘n merkwaardige storieverteller wat mens laat lag en die liefde van Jesus ervaar.”

In latere jare sou Kolonel Kobus Jonker, die eertydse Hoof van die Eenheid vir Okkulte Verwante Misdade, Mike Warnke se boek, “The Satan Seller” verwys in sy boeke, selfs as bronverwysing nadat Warnke onbloot was as bedrieer.

Wikipedia asook Rationalpedia het albei artikels oor Warnke as ‘n Christen Evangelis en komediant wat in 1992 ontbloot is omdat hy vals stories uitgedink en versprei het oor sy lewe as Satanis.  Dit was dan ook die Christelike tydskrif “Cornerstone” wat hom ontbloot het.

In sy hele lewe was Warnke glad nie ‘n Satanis of enigsins betrokke by wat bekend sou staan as Okkultiese bedrywighede nie.  Sy boek “The Satan Seller” was deurspek met leuens.  Cornerstone het oor ‘n honderd van Warnke se skoolvriende ondervra asook bewerings van bedrog in sy bediening.  Selfs Warnke se bewering dat hy en Charles Manson saam in ‘n “coven” was is as vals bewys omdat Manson ten tyde van die gebeure reeds in gevangeniskap was.

Warnke het ook nie tot “bekering” gekom toe hy in die vloot was nie, maar was reeds lank voor dit betrokke by Campus Crusade for Christ as student.

Hy het ook verskeie vals bewerings gemaak oor sy opleiding en by tye beweer dat hy ‘n B-graad of Meesters-graad het.

Warnke was dan ook, nadat hy prominent geword het onder Christelike kringe betrokke by verskeie buite-egtelike verhoudings en het dan ook ‘n paar keer in die skeihof beland.  Daar is ook genoem dat van die partytjies waarby hy teenwoordig was na die begin van sy Evangelis-loopbaan ook ontaard het in drinkpartytjies en orgies.

Warnke het in sy tyd ook geld ingesamel wat hy verkondig het bedoel is om kinders te red uit Satanisme.  Hierdie stem ooreen met dieselfde storie wat enkele jare gelede deur Cecilia Steyn vertel is.  Sy het beweer dat die geld wat sy insamel gebruik sou word vir ‘n geheime weeshuis van kinders wat uit die kloue van Satanisme gered is.  Sy wou ook nooit bekend maak waar die weeshuis sou wees nie, aangesien dit tot die dood van die kinders sou lei. Steyn sou later lewenslank gevonnis word vir haar leierskap in die moord-bende wat verantwoordelik was vir verskeie moored in en om die Krugersdorp omgewing.  Die moorde was onder haar opdrag gepleeg deur die lede van haar Christelike Bediening bekend as Electus Per Deus (Verkies deur God).

Die “Satanic Panic” het in die 1970’s in die VSA begin en geduur tot in die 1990’s, vanwaar dit effe afgeneem het.  Die Qanon sameswering teorie het weer wind geblaas in die “Satanic Panic”.  Soos vandag was hierdie paniek beweging begin deur valse predikers met die uitsluitlike doel om geld te maak.

Tog nadat Warnke ontmasker was as bedrieer het hy nie veel status verloor nie.  Selfs skrywers van boeke oor Satanisme soos Kobus Jonker verwys nog na hom.  Dit self moet Jonker ook onder verdenking plaas oor sy motiewe.

Die Skrifte waarsku teen Valse Profete soos Warnke, en die wat ten spite van die onthullings oor hom, hom nog steeds ondersteun.  Dit plaas in werklikheid ‘n groot deel van kerkgroepe en bedienings onder verdenking.

“En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.”
Jer 14: 14

 “Want Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE, en hulle profeteer vals in my Naam, dat Ek julle kan verdrywe en dat julle kan omkom, julle en die profete wat vir julle profeteer.”

Jer 27: 15

 “Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.”

Jes 59: 3


Bronne:

Seale, R. Rock Musiek, die Reg om te Weet. 1988.

Jonker, K et al. Satanism in South Africa.

Mike Warnke - RationalWiki

Mike Warnke - Wikipedia

 

 

Comments

Popular posts from this blog

The Use of Fear by those in Authority

Bang vir Kobus